Subduksie

'n Diagram van die geologiese proses subduksie.

Subduksie is 'n geologiese proses waarin die oseaniese litosfeer by konvergente grense in die aardmantel herwin word. Wanneer die oseaniese litosfeer van 'n tektoniese plaat bots teen die minder digte litosfeer van 'n tweede plaat, soos 'n kontinentale plaat of ligter oseaanplaat, word die swaarder plaat onder die ander een ingedruk en sink dit tot in die mantel. Die streek waar dit gebeur, staan bekend as 'n subduksiesone. Die subduksieproses het die grootste deel van die Aarde se kontinentale kors geskep.[1]

Die tempo van subduksie word gewoonlik bereken teen sentimeters per jaar, terwyl plate teen 'n gemiddelde tempo van sowat 2 tot 8 cm per jaar konvergeer (na mekaar beweeg).[2] Subduksie is moontlik omdat die koue, rigiede oseaniese litosfeer effens digter is as die astenosfeer, die warm, vervormbare laag in die bomantel wat net onder die litosfeer lê. Die digtheidsverskil bepaal in watter mate subduksie plaasvind.

Aardbewings kom algemeen by subduksiesones voor, en vloeistowwe wat deur die wegsakkende plaat vrygestel word, is 'n sneller vir vulkanisme in die boonste plaat.

  1. Stern, Robert J. (2002), "Subduction zones", Reviews of Geophysics 40 (4): 1012, doi:10.1029/2001RG000108, Bibcode2002RvGeo..40.1012S 
  2. Defant, M. J. (1998). Voyage of Discovery: From the Big Bang to the Ice Age. Mancorp. p. 325. ISBN 978-0-931541-61-2.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search